Tuesday, 24 August 2010

Spieeltjie Spieeltjie aan die Wand.....

Sjoe! Week een is verby! Ek kan nie glo een mens kan so obsesief raak oor kos en gewig nie. Met elke ding wat ek doen dink ek oor die gevolge. Ek leef nou vir kos meer as ooit, die verskil is, dit is gesonde kos! Hoor nou weer vir jakkals prys sy eie stert....mens sal dink die stryd is verby en ek het gewen...."meantime" sê my hart vir my - this is only round one baby!!!

Ons is besig om ons huisie bietjie op te knap voor ek moet terug gaan werk toe, en geen mens dan tyd gaan hê om enige iets te doen -vir jare....en om weer te hoop vir kraamverlof is uit soos koekies in die weeshuis, Pappa het gesê hy gaan volgende week vir sy hmm..... operasietjie! (He He - dan sit ek met nog 'n baba). Maar om terug te kom na die huis, ek gaan koop 'n lieflike spieël, want al die kenners en "interior designers" sê om 'n gang beter en langer te vertoon moet jy 'n spieël hang. So gesê so gedaan!

Wel, kom ek sê julle nou vandag die waarheid, die blêrrie ding is net daar om mens te herinner hoe sleg jy werklik lyk,  net  voor jy moet kamer toe gaan saam met die man van jou lewe vir Matraskaskanades! Geen mens het dan lus om die daad te doen en almal in die huis loop dikbek rond en Mamma sit en huil 'n dag om oor hoe sleg sy lyk!

Na 'n hele dag se gesaanik, dink manlief toe dit is nou 'n goeie tyd om te vrae wat eintlik skeef geloop het. Die arme man het seker ook maar bietjie van 'n seer ego, weer draai die krane oop en daar sit ek in my volle glorie en vertel hom hoe lelik ek is!

Dadelik begin hy met die verklein woordjies; bokkie, liefie, my skattebolletjie en ek voel net.....dit moet wees BOK, LIEF en SKAT want ek is nie klein nie. Hel man wat hy ook nou al gaan sê laat mens nie beter voel nie...en toe daar sê hy dit, die grootste fout wat enige man op daai tydstip kan maak...Ek is lief vir jou nes jy is!  WAT... nes ek is? NES EK IS?? Ek sê dan nou net vir jou ek is die lelikste mens op aarde en nie eens ek is gelukkig met hoe ek lyk nie, hoe de hel kan jy wees.

So "book" ons toe 'n amperste week van stilte in die huis. Ek loop draaie, hy loop draaie en albei van ons is net te hardegat om weer die ander te nader. Vrydag Middag gaan ek en die kinders gou winkels toe om presente te koop vir die naweek se string verjaardae partytjies wat voorlê. My selfoon lui op pad huis toe, ek moet die kinders by 'n vriendin los vir so uur, manlief wil gesêls.

Nou weet mens, die ding gaan nou een van twee eindes hê. Of ek gaan vrede maak en..... of die naweek gaan maar suur wees. Ek ry met 'n hart wat pons in my bors, ek het nog nie eens gestop nie, manlief ruk my uit daai kar, soen vir my en sê: "vir my is jy al wat saak maak, vir my is jy die mooiste en saam maak ons vir jou, jouself die mooiste!"  By die huis wag vrede toe vir my met oop arms, op pad kamer toe in die lang gang hang 'n spieël....'n spieël waarin ek oor tyd nog die mooiste in die land gaan word.

Lekker week almal!!

1 comment:

  1. Hi,wat 'n pragtige einde vir die verhaal. Ek moet eerlikwaar uit ondervinding se dat ek dink die vroue geslag is meer gepla met hoe ons lyk, as wat dit ons mans regtig pla. Maar ek moet ook byse dat ek ook maar nes jy glad nie gelukkig is met hoe ek lyk nie. More is D-dag vir my en sluit ek dan ook aan by W.less. Mag ons van krag tot krag gaan en baie dankie aan die LIEWE VADER wat vir my so 'n engel van 'n man en pa vir my 2 dogtertjies gegee het. Waardeer hom elke dag 'n bietjie meer. En moet se, vir 'n man wat 1 van 4 broers is en niks van vroue geweet het nie, het ek met 'n skat getrou! Lekker week en sterk staan! Jy nie alleen! Groetnis Thersia (Amanzimtoti)

    ReplyDelete