Thursday, 23 September 2010

Singing in the Rain!

Die ding staan so,  Ek het verlore geraak in die oomblik, miskien was hy net te groot en werklikheid het my een helse klap van agter af gegee en gesê: “Kom By VROU!!”
Om op enige dieet, of dit nou ‘n foefie of reg eet of wat ook al jy dit noem, of doen, is dit soos ‘n “dwelm trip”. In die begin is jy vuur en vlam reg om die lewe aan te pak en vir almal te wys EK KAN OOK! ‘n Week of minder of meer later, hang af van mens tot mens, begin alles...... soos in alles lekker lyk. Even die blerrie brokolie wat jy nog nooit van gehou het nie, maar nou, in ‘n dubbel kaassous by jou ma se huis vir jou lê en gluur.......dit  lyk HEERLIK...VOORTEFLIK.....AANLOKLIK!
Almal om jou probeer ‘n tipe van ‘n “intervention” om jou te laat voorkom om dit nie te doen nie want hulle weet mos jy kan dit doen en probeer jou op die sogenoemde ‘regte pad’ te hou. Al wat deur jou kop oor en oor en oor flits is: Net die een keer, dit kan mos nie soveel skade doen nie.

Daarna begin jy met verskoonings vir redes hoekom jy dit moet doen, soos.....Dis my Laaste sondag ete wat ek dit kan doen, of Maandag begin ek mos werk dan gaan alles verander of ek het klaar in die week skelm daai sjokolade geeet nog ‘n bietjie ‘Cheating’ gaan nie die appel kar omgooi nie, of of of. Ons almal het ons eie redes wat ons gemaklik vir ons self fluister sodat skuld ons nie opvreet nie. Daarna vergryp jy jou aan die kaassous los die verdomde groente en terwyl jy nou op ‘n ‘roll’ is skep jy sommer pampoenkoekies in en op my pad om die borde te bêre gryp jy daai lekker bruin gebraaide hoedervel uit die bak, wat eintlik afgehaal is om jou te help.....Ja rite.
So begin, let wel begin die boose kringloop eers. As jy jou mooi blou ogies uitvee is dit amper twee weke later en jy het al jou harde werk in die begin vergeet soos mens daai  “Light Sop” in die kombuiskas vergeet.  Jy sit en eet die een slab tjoklit na die ander en jy voel skuldig en omdat jy skuldig voel eet jy nog een en omdat jy nog een geeet het voel jy hartseer en omdat jy hartseer is.....jip eet jy nog!!
Pappa neem aan die dieet stories is alweer op ‘n einde en begin Cream doughnuts bring om in die aand in die bed te eet. Jip in die bed met ‘n koppie koffie...sommer so oor huis Godsdiens.
En met elke hap wat ek gee bid my binneste vir ‘n briek of net iets, ek wil ophou ek moet ophou. My kinders gaan nie hul ma ken nie, want sy sal seer sekerlik sterf aan ‘n hart aanval of vetsig voor hulle 10 is.
Die hoëveld somer begin en saam hom kom sy lieflike donder storms. Dit voel asof elke weerlig straal afkom en die aarde wakker skud, met ‘n groot kragtige gerommel en geblits donner en dan val die reën op ons aarde. Alles wat eens dood was van ‘n lang droë winter gaan weg en ooral kom daar groen uit...mooi uit. Dit maak nie saak hoe kortstondig daai druppels geval het nie. Jy ruik die mooi, jy voel in jou binneste die opgewondenheid van nuwe lewe.
In my geestesoog onthou ek verlede jaar September. Ek het pas uitgevind ek is swanger....Al ‘n hele 12 weke. Vir een of ander rede het ek uitgesit asof ek haastig was om die nuwe lewe binne my te vorm. Noodgedonne moes ek vir my nuwe werks uitrustings gaan kry het, aangesien die ongemak en die drukkende hitte nie goed saam gegaan het met die broeke wat stywer en stywer sit om die middel.  Ek gaan koop toe ‘n broek, maar ek koop hom “Los”....m.a.w te groot, dis bloot omdat ek gevoel het ek nie lus sal wees om weer geld uit te haal vir klere oor ‘n maand of twee as die pens nog grooter is.
Dit het een middig so erg uitgesak dat die water amper tot by my kar se deur ingekom het. Dit was laat middag en ek moes my toe tweejarige kleuter by sy skooltjie gaan haal het. By die skool aangekom het die reën mooi opgehou, alhoewel dit nog baie bewolk en donker was....amper onheilspellend. Ek is met ‘n spoed in die skool in. Juffrou dink toe dis ‘n goeie tyd om met my te praat. Nie dat ek weet oor of wat nie, ek kon niks hoor behalwe die reën. Mens hoor die reën aankom hier waar ek bly. Hy val nie net uit die lug uit nie, dis asof hy aangehardloop kom, dit klink amper soos ‘n kar op ‘n plaaspad....jy hoor hom voor jy hom sien. Mensig maar hy val toe mos neer. Nou ek bly so 40km van die skool af. Dus sal ek moet ry anders vang die donker en die reën my op ‘n gevaarlike pad.
Ek gryp vir boeta...onthou nou die knaap is twee. Hy wil/moet dinge op sy manier doen. Al skoppend gooi ek hom onder die een arm, amper soos ‘n sak patats. Al sy skool sakke onder die ander arm met ‘n sambreel wat die tasse droog hou want vader alleen weet ek en alles pas nie onder die klein dingetjie nie. Ek hardloop....Al wat ek kan dink is dat die broek se pype swaar moes geraak het van die reën...Ek was nie eens halfpad na my karretjie toe ek voel, maar hel my bene is nou koud en word nat. Volgende oomblik strykkel ek oor my eie broek want nou kan die arme voete nie meer beweeg want ja hy trek al daar. Die beskermde moeder wat ek is gaan onder geen omstandighede die knaap onder die arm los nie, want (nr 1) hy het reeds verkoue, en dan (nr 2) het jy al ‘n twee jaarige in die reën probeer vang sonder ‘n broek en net in ‘n ouma pantie??? (Dis al wat pas oor die rolle!).
So skop ek die een voet uit die pyp en storm voort na my kar, ek is ook nou nie van plan om terug te hardloop om die broek te gaan haal en ek wil ook nie weer ‘n nuwe een koop nie. Ek kyk nie links of regs ek boeta an die sakke is by my kant van die kar in. Ek het hom nie eens in sy karstoel vas gemaak nie. Ek het die nou papnat broek voor in die kar gegooi en gery..... niemand of niks in die oë gekyk. Ek is met net ‘n pantie  en my bloesie aan, op die high-way. Boeta het so groot geskrik hy het nie een een keer sy ma opdraande gegee oor enige koeldrank of sweetie nie. Hy het maar net gesit.
Om die storie heelwat kort te knip. Pappa moes elke dag vir amper twee weke ry om boeta te gaan haal en te vat vir skool. Na ‘n ruk het ek weer dit aan gepak.....tot vandag toe weet ek nie wie het die pienk ouma pantie gesien. Niemand sê ‘n woord. Miskien was dit die boep wat gegroei het en almal weet mos, jy mag nie met ‘n swanger vrou sukkel nie.
Maar nou ja, dit reën weer in die hoeveld. My broeke pas net net en ek begin dink. Elke bietjie reën wat val maak so groot verskil aan ons moeder aarde. Sy begin blom haar gras is groen en haar boome bot net van ‘n paar druppels in die middag. Miskien moet ek klein begin en groot eindig. Miskien moet ek ophou vas staar aan die groot prentjie en die klein goedjies raak sien in my lewe. Miskien moet ek weer begin, en in plaas van al die moet en moenies wat oor my kop hang vergeet. Miskien moet ek net ‘n druppel in my emmer gooi....eendag sal hy VOL  wees.........

Monday, 13 September 2010

Dis Heerlike Lente....Alles gaan verby?!?!

Ek wonder of die reuk van iets julle ook jare terug kan neem na 'n tyd of plek waar dinge, of goed, of sleg was. Die lente is hier en in my gejaag om terug te keer na normaliteit, of na die balanseerings toerkie van dit wat ek my lewe noem, het ek klaar weer baie gemis. Ek verstaan nie waar tyd heen gaan en hoekom hy so haastig is nie?? Hier waar ek sit voor my rekenaar hang die reuk van die bloureën so dik in my neusgaate...... en ..........BOOM!!!!.... kry ek die terugflitse.


Die Bloureën in my Tuin
  
Jy sien, ek was op Bloemfontein - Oranje Meisieskool in CM Jooste Koshuis op skool. Elke middag as jy met jou swaer tas wat twee maal so swaar soos jy is, oploop van skool, het die bloureën jou verwelkom by die voordeur. Al wat deur my kop op daai stadium gegaan het was die feit dat dit amper September Vakansie gaan wees, en daarna Kersfees. Ek moes toe al geweet het dat ek my lewe omwens. Ek wonder hoekom doen ons dit? Ek het nou maar vir eens die ding in my om te ver vooruit te dink aan wat gedoen moet word en wat nog moet gebuer, dis kompleet asof iets my jaag. Nou dat ek kinders het en weer terug by die werk moet wees na ses maande van "eie tyd" besef ek wat ek is en waarop ek uitmis.

Verlede week is my babatjie saam met ouboet na sy kleuterskool toe. Jong was ek  nou in 'n algemene toestand van onbeheersbare snik en traanklier disfunksie. Ek kon net nie ophou huil nie. my man dink toe ek is laf want ek was mos nou al deur dit met die eerste seuntjie. (Olie op vuur maar nou ja dit is mos hoe die manlike spesie is. Ek gaan nie vandag daarop in die, vrede is weer by my.) Ek begin toe dink, hoekom is my hart so seer? Dit het kompleet gevoel asof iets weg is uit my?! Al slotsom waarop ek kon kom is dat ek 'n vrees het dat ek BAIE in my kind / ers  se lewe mis. Ek weet die jaag monster lê en wag en my siel skreeu stadig stadig dit is jou laaste baba, nooit weer gaan jy so mooi kosbare geskenk kry.
Om als te kroon, weet ek, Juffrou hoe oulik sy ook mag wees is my aards vyand van dag een af.....dit vat nie lank nie, dan is sy die mooiste die slimste en sy weet alles want: "JUF Sê......."  Jip liewe mense ek is een van daai mammas wat 'n groen monster in my hart dra, my drie jaarige seun is klaar verlief en verloore. Toe ek nou die dag vir hom wil wys hoe om 'n sirkel uit te knip reken hy my...."Mamma moet dit soos juffrou Marie doen!!! NEE NIE SO NIE!!!!"

Miskien het die absoluute klaagliedere van my iets uit te waai met die feit dat ek in die week nog 'n jaar kan bytel by my ouderdom. Ek voel nostalgies, geseën, gelukkig en hartseer op dieselfde tyd!!
Met die dieet en maer word misie gaan dit maar swak, ek is op 'n "rollercoaster" Ek weet ek moet.... maar ek kan nie, ja ek gaan, nee more, ag nee, net een en dan oeps!!!!

Lekker Dag.
VV

Tuesday, 24 August 2010

Spieeltjie Spieeltjie aan die Wand.....

Sjoe! Week een is verby! Ek kan nie glo een mens kan so obsesief raak oor kos en gewig nie. Met elke ding wat ek doen dink ek oor die gevolge. Ek leef nou vir kos meer as ooit, die verskil is, dit is gesonde kos! Hoor nou weer vir jakkals prys sy eie stert....mens sal dink die stryd is verby en ek het gewen...."meantime" sê my hart vir my - this is only round one baby!!!

Ons is besig om ons huisie bietjie op te knap voor ek moet terug gaan werk toe, en geen mens dan tyd gaan hê om enige iets te doen -vir jare....en om weer te hoop vir kraamverlof is uit soos koekies in die weeshuis, Pappa het gesê hy gaan volgende week vir sy hmm..... operasietjie! (He He - dan sit ek met nog 'n baba). Maar om terug te kom na die huis, ek gaan koop 'n lieflike spieël, want al die kenners en "interior designers" sê om 'n gang beter en langer te vertoon moet jy 'n spieël hang. So gesê so gedaan!

Wel, kom ek sê julle nou vandag die waarheid, die blêrrie ding is net daar om mens te herinner hoe sleg jy werklik lyk,  net  voor jy moet kamer toe gaan saam met die man van jou lewe vir Matraskaskanades! Geen mens het dan lus om die daad te doen en almal in die huis loop dikbek rond en Mamma sit en huil 'n dag om oor hoe sleg sy lyk!

Na 'n hele dag se gesaanik, dink manlief toe dit is nou 'n goeie tyd om te vrae wat eintlik skeef geloop het. Die arme man het seker ook maar bietjie van 'n seer ego, weer draai die krane oop en daar sit ek in my volle glorie en vertel hom hoe lelik ek is!

Dadelik begin hy met die verklein woordjies; bokkie, liefie, my skattebolletjie en ek voel net.....dit moet wees BOK, LIEF en SKAT want ek is nie klein nie. Hel man wat hy ook nou al gaan sê laat mens nie beter voel nie...en toe daar sê hy dit, die grootste fout wat enige man op daai tydstip kan maak...Ek is lief vir jou nes jy is!  WAT... nes ek is? NES EK IS?? Ek sê dan nou net vir jou ek is die lelikste mens op aarde en nie eens ek is gelukkig met hoe ek lyk nie, hoe de hel kan jy wees.

So "book" ons toe 'n amperste week van stilte in die huis. Ek loop draaie, hy loop draaie en albei van ons is net te hardegat om weer die ander te nader. Vrydag Middag gaan ek en die kinders gou winkels toe om presente te koop vir die naweek se string verjaardae partytjies wat voorlê. My selfoon lui op pad huis toe, ek moet die kinders by 'n vriendin los vir so uur, manlief wil gesêls.

Nou weet mens, die ding gaan nou een van twee eindes hê. Of ek gaan vrede maak en..... of die naweek gaan maar suur wees. Ek ry met 'n hart wat pons in my bors, ek het nog nie eens gestop nie, manlief ruk my uit daai kar, soen vir my en sê: "vir my is jy al wat saak maak, vir my is jy die mooiste en saam maak ons vir jou, jouself die mooiste!"  By die huis wag vrede toe vir my met oop arms, op pad kamer toe in die lang gang hang 'n spieël....'n spieël waarin ek oor tyd nog die mooiste in die land gaan word.

Lekker week almal!!

Thursday, 19 August 2010

"n VROU nes ek!!!

Ek het die ontvang op my email, ek deel dit graag met julle. Dit het my in traane gehad....EK IS NIE ALLEEN NIE!!!!! Geniet die dag, wees sterk ons KAN dit doen.

Anoniem:

Ek lees nou net jou blog en het sommer begin lag . . . want dit klink asof dit my eie is!


My troetelnaam van die dag van my geboorte was Spekkies (enough said??) en ek was maar nog altyd die ronde een in die familie. Ek het net voor ek my man ontmoet het mooi gewig verloor tot net onder 90Kg. Maar my hubby geniet dit ook om sy vroutjie te bederf en ek is 8jr terug getroud op 106kg. Ek het 2 jaar later swanger geraak op 108kg en het geëindig op 120+kg. Baie diëte en probeerslae later het ek verlede jaar die skaal nogsteeds op so 119kg getrek. My GP het in Junie maand baie kwaai met my geraas en gesê hy gee my max 5 jaar . . . Dan is ek either dooi aan 'n hartaanval, of ek is vol diabeet. Ek't my pose gehou voor hom, maar buite was ek aan die huil! Gelukkig was hubby saam, en ek dink vir die eerste keer kon hy sien dat my gewig my genioun pla!

Moenie 'n fout maak nie . . . Ek is selfversekerd! Ek het 'n man en 'n kind wat die grond aanbid waarop ek loop. Ek sit saam met groot koppe rondom 'n tafel by "n groot Maatskapy en help met belangrike besluitnemings. Ek is 'n steunpilaar vir baie vriendinne. En ek balei vir dit wat reg is. Tog, iewers diep binne my weet ek dat ek nie happy is met hoe ek lyk nie! Ek het 'n groot beenstruktuur met skouers wat lyk asof ek 'n Springbok swemmer is en is 1,8m lank. My bene kan die wees van 'n model, want al die vetjies sit op die maag en boobies.

Ek was al vroeer ook by 'n dieetkundige toe ek gesukkel het om swanger te raak met my 1ste. Sy het ongelukkig opgehou praktiseer, en ek was weer op my eie. Ek het 'n ander dieetkundige genader en my so vervies vir haar @&#$^%&^%$ houding, ek het nooit weer terug gegaan nie. Toe my GP weer 'n dieetkundige voorstel en ek toe nou maar sommer in gewone Afrikaans vir hom vertel wat ek van dieetkundiges dink! Na 'n lekker lag sessie het hy my verwys na 'n baie jong dame waaroor ek toe nou nogal erg skepties was! Ek het Junie verlede jaar na haar toe gegaan en gou agter gekom sy is nogal 'n kwaai snotkoppie - LOL! Ek het so 2 kg verloor voor ek by haar ingestap het, maar volgens haar skaal was ek toe 119kg. Sy het gewaarsku dat ek asb nie nou moet swanger word nie, maar aangesien ons toe nou al vir 4 jr probeer het ek geweier om weer op voorbehoedmidddels te gaan. Verlede jaar Sept/Okt het ek so 5Kg verloor en toe is ek SWANGER!!!! Ons was in ekstase, maar vir 'n kort rukkie . . .Ek het 'n miskraam gehad op 9 weke. Dit was 'n baie moeilike tyd, maar ek het net geweier om te gaan lê en het geglo dat God vir my sou gee op die regte tyd. In Januarie vanjaar was ek weer swanger en in totaal 6 kg ligter as wat ek in Junie was. Ek het hoë bloeedruk en het geweet hieride swangerskap gaan 'n moeilike enetjie wees en dat ek myself BAIE mooi sal moet oppas.

Ek was verlede Vrydag by die dieetkundige (kwaai snotkop dieetkundige vir wie ek baie lief geword het) en ek het tot op hede net 'n bietjie meer as 5KG opgetel waaroor ek baie trots voel! Ek is nou eers klaar met haar, en sal so 5 weke na die keiser weer terug gaan. Sy kan my niks meer leer van watter kosse hoort by watter kosse nie, maar daai morele ondersteuning is GOUD werd! Ek is nie op 'n dieet nie, ek haat dit as ek sekere goed nie MAG eet nie, maar probeer ook eerder gesonder eet! So ek volg die LOW GI eetplan en maak kos uit die "Eet vir volgehoue energie". En dan natuurlik die belangrikste: OEFENING! Ek haat dit . . . Maar dit is so, so nodig om al daai ektra vetjies te verbrand. Ek het gevind om net eers bietjie te gaan stap help, en dan try ek om saam met my kind te speel (hardloop, balskop, ens). DIt moenie voel soos oefening nie, dit moet voel soos goeie kwaliteit tyd saam met jou geliefdes!

Ek sien baie uit na die volgende paar maande, en ek is wraggies bly daar is nog mense soos ek wat gewig wil verloor vir gesondheidsredes. Baie sterkte vir jou, en laat gerus van jou hoor - ek is ook maar net mens met mood swings en binnekort min slaap, so ek weet waardeur jy gaan!!

NB: Ek staan nou op 117kg, my mikpunt is 90kg - als daarna is 'n bonus!

Tuesday, 17 August 2010

Hier's ek weer, hier's ek weer met my vetgat voor jou deur....Ek wil jou hê ek gaan jou kry.

Ek het geen idee hoe om my eerste "Blog" te begin nie, ek is geen "expert" nie.  As ek mooi daaroor dink is ek op baie velde nie 'n kenner nie. Miskien moet ek eerstens onverskooning vrae vir my aaklige spelling.

Ek het 'n juffrou gehad op skool wat my vingers stukkend geslaan het oor spelling, tot vandag toe het dit nie gewerk nie. Maar soos met die spelling is daar baie dinge waar jy my net moet aanvaar nes ek is. Hier kom ons nou by die werklike rede vir my Blog.

Jy sien ek is nie net vet nie, ek is gediagnoseer met morbiede vetsug. Ek is 1.74m lank en ek weeg 136.8kg! EK moet dus 'n volle 66kg verloor net om gesond te wees....dit is 'n hele mens.

Hoekom Nou??  Wel ek het twee pragtige kinders en 'n wonderlike man, en om dit mooi te stel kan ek nie byhou met een van die drie nie. Ek raak uitasem en is ongemaklik as ek met die kinders wil speel en kan net in een posisie my man bevreedig wat nou saai raak. Ek het nodig om gesond te word, ek wil 'n lang lewe lei, een wat ek gemaklik kan geniet. Ek verwag nie dat dit oor nag gaan gebeur nie, ek weet dit gaan 'n hele tydtjie neem. My Groot doelwit word ook opgedeel in kleiner stukkies om seker te maak ek bereik die einde!!

My VERLEDE: EK het nie oornag vet geword nie...nee die storie kom nou al 'n helse lang pad. Van kinds af is daar vir my gesê ek is vet,groot,dik noem dit. Ek onthou hoe my oupa my onder my bo-arms getik het en gesê het: "met sulke groot arms kan jy seker lekker spies gooi". My moeder, die lieflike mens wat sy is, het gedink sy doen my 'n guns deur my op elke dieet moontlik te sit waarop sy haar hande kon kry. Dit het meer skade as goed gedoen. Die hartseer van die hele storie is as ek na my fotos kyk was ek nogal 'n baie mooi kind, glad nie eens groot nie, maar iewers langs die pad moes ek dit begin glo het....

WAT NOU.....

Ek het myself ingeskryf by my naaste Weigh-Less groep, alhoewel ek klaar nie van die sogenoemde leier hou nie. Mens moet tog persoonlikheid hê vir die tipe van ding ....maar volgens my het sy geen. Miskien met tyd verander my opinie oor die arme vrou. Automaties vrae jy; "hoekom Weigh-Less?" My Liewe mens glo dit of nie maar EK IS MAL OOR EET!

Ek kan nie meer myself uithonger, skommels drink, inspuit of die volgende wonder kuur probeer. Met weigh-less eet ek tog te lekker en ek leer wat is gesond eet. Ja Ja mens weeg alles dat dit by jou ore uit kom maar dit is vir jou eie onderig proses! Na 'n ruk is mens glo so gekonfyt met als jy weet wat jou porsies is. Op die einde van die dag wil ek dit  'n leefstyl maak.

Dit bring my tot my volgende punt, elke mens is anders. Wat vir my werk is dalk vir jou aaklig of selfs gestuur uit die hel. Met soveel verskeidenheid in die dieet afdeling weet ek ons almal stem nie saam, maar ek respekteer mense en hul keuses. As jy jou dieet met my wil deel, maak so email my....vertel my van jou gewig stories.

Ondersteuning = Ek het genoem dat ek 'n man het, en ja familie. Die ding is, hy ondersteun my so goed dat ek vir hom mooi is al lyk ek soos 'n bus. Hy eet saam met my die dieet kos, reeds sodat ek nie vir hom en die kinders apart moet kos maak nie, want glo my kos maak die kan ek! Die probleem met my man is dat hy saam sal swig,  as ek nou mooi gatvol is vir die dieet stories kan ek net tjokie noem, hy sal in sy kar spring en gaan koop.

My familie is daar, my ma my pa en die gewoone , maar met hulle is dit anders. Dis asof hulle meer oordeel as ondersteun. Dit is nie dat hulle aaklige mense is nie, dit is net hoe dit nog altyd is. Oe word gerek as jy roomys inskep, koppe word geskud as jy vir nog n porsie gaan. Sê jy is op dieet dan mag jy nie eens sprite zero drink nie.

Nou dit is waar die moderne tegnologie van vandag inkom, ek  het 'n "facebook site", en is deel van 'n groep ook asook gaan ek die "Blog" gebruik om in kontak met mense soos ek en ook myself te bly. Sien dit as 'n dagboek van die reis na 'n beter ek. Ek vrae mense soos jy om my te help, my te ondersteun, met my te praat. Deel met my jou kennis, motiveering net wat jy wil.

ANONIEM...Hoekom skryf ek onder 'n anomieme naam? miskien omdat ek weet daar is meer as een van my daar buite. Daar is baie, dames veral, wat my kan identifiseer.... so jy is dalk vet vroutjie...

WAT KAN JY VERWAG...
Ek is net 'n mens, ek maak foute. Ek is nie die vet mollige vriendelike tannie wat altyd "CHURPIE" is nie.
Alhoewel ek baie van mense hou, bly ek maar net 'n mens. Ek werk, tans is ek op kraam verlof...dit beteken baie tyd (ook nie eintlik met boetie in die arms nie!) Maar ek weet voor my heilige siel as dit terug is werk toe, verander die hele spel. Wat ek probeer sê is; ek gaan probeer om die dagboek gereeld te gebruik en jou op hoogte te hou.

Wat ek verwag van JOU...
Asseblief liewe leser maak kontak, laat weet my ek is nie die enigste een nie. Kom gesels saam my.
As jy enige insette het, ek vat dit soos dit kom.

Tonne Liefde